Elke jaar as herfs aanbreek is ek vies dat ek nie 'n vakansie vir die tyd van die jaar beplan het nie, want dit is die mooiste tyd van die jaar, wat die weer betref. Hierdie jaar, toe ek die string vakansie dae in April opmerk het ek besluit dat hierdie die jaar sal wees wat ek nou 'n slag vakansie gaan insit en 'n kamp reis gaan beplan vir hierdie tyd.
Die probleem is egter altyd om as enkeling iemand te kry om so 'n reis/vakansie mee saam te onderneem. Natuurlik kan mens dit alleen doen (ek het al baie alleen gereis en vakansie gehou), maar dit is net nooit dieselfde as om die ervarings met iemand anders te deel nie. Ek wou nog altyd "Die Hel" (Gamkaskloof) en Baviaanskloof besoek, maar hiervoor het mens ook deesdae 'n viertrek voertuig nodig; wat ek nie het.
Ek besluit toe om my vriend, Johnny, wat ook graag reis en kamp EN 'n viertrek voertuig het te nader oor die vakansie gedagte. Hy het bietjie gewik en weeg maar het op die ou end half onsekerig ingestem om saam met my die reis aan te pak en het verskeie van sy eie moontlike bestemmings bygevoeg - almal plekke waar ek nog nooit was nie, so dit sou vir my ook goed werk. So begin ons reis toe op Maandag 21 April, die laaste dag van paasnaweek. Wat hier volg is ons daaglikse ervarings, slegs vanuit my perspektief, van ons 14 dae vakansie - wat ek verstaan eintlik as "overlanding" beskryf word. Ek sal 'n Afrikaanse woord hiervoor moet soek.
Maandag, 21 April 2014
Ek is vroeg uit die vere om klaar te pak en padkos te maak. Ek het 'n ding oor padkos vir reis (dis 'n baie belangrike deel van die reis) - seker heimwee na wonderlike kindervakansies, maar padkos smaak in elk geval beter as winkel kos. Johnny daag so 10h00 se kant op en ons laai my goed en sit die fiets op die fietsrak. O ja, ek het vergeet om te sê dat ons die bergfietse saamvat en Johnny sy nuwe fietsrak dus nou behoorlik inwy. Ek kan nie glo dat net 2 van ons 'n Toyota Cruiser so vol kan laai nie! Ons mik vandag Oudtshoorn/ De Rust se kant toe waar ons net vir die nag sal oorbly, of kamp of in 'n selfsorg plekkie - wat ookal oor ons pad kom. Ons het nie bespreek nie en het besluit om te gaan waar die Gees ons lei.
Ons ry deur Du Toitskloof tonnel en mik dan vir die R62 waarmee ons die res van die pad ry. Dis 'n mooi dag, die sonnetjie skyn en daar is wolke in die lug, so dit is nie besonder warm nie. Die verkeer is wonder bo wonder nie vreeslik druk nie en die meeste is in die teenoorgestelde rigting as ons oppad. Tussen Montague en Barrydale is daar 'n magdom pragtige piekniekplekke langs die pad, maar dis vir ons nog te vroeg vir middagete. Op Barrydale kry ons diesel en besluit dat ons na nog so 'n halfuur 'n piekniekplek sal soek om middagete te geniet. Wel, glo dit of nie, kilometers gaan verby maar daar is geen piekniekplek in sig nie. Ons is later rasend honger, toe Johnny uiteindelik 'n piekniekplek aan die regter kant van die pad gewaar. Ons slaan remme aan, gooi 'n U-draai en eien die piekniekplek as ons s'n vir die volgende rukkie. Ons het sommer gou die kos uit en ewe gou het die brommers ook kom kyk wat daar te ase is. Die ontwerp van die piekniekplek is nie wonderlik nie, daar is skaduwee maar nie naby die tafeltjie nie en op hierdie stadium was die sonnetjie nogal warm. Ons eet dus so staan-staan en deel 'n botteltjie Savanna voor ons weer die pad vat.
Foto: Johnny Vergeer - Stompdrif dam |
Ons braai 'n vleisie terwyl ons die buurman regs van ons se lieflike akoestiese kitaar musiek geniet en die "doef-doef bokkie" musiek aan die linker kant probeer weg wens. Als in aggenome was dit 'n goeie begin vir ons vakansie.
Dinsdag 22 April
'n Bewolkte dag heet ons welkom en ons kampgoed is effe klam van die dou. Ons besluit om sommer eers te gaan litte losmaak terwyl die tente afdroog. Na ontbyt saal ons dus die fietse op en ry De Rust se kant toe. Kort voor De Rust draai ons links af op 'n grondpad. Dis sommer gou duidelik dat ek baie onfiks is, maar ons ry rustig - of liewers Johnny ry baie rustig om my kans te gee om soortvan by te hou. Ons ry verby 'n ou bouvallige Karoo huis wat eens op 'n tyd 'n pragtige plekkie moes gewees het. Ons hou eers verby maar met die omdraai slag gaan neem ek 'n paar foto's van die plek.
Agterkant van die Karoo huis bouval |
Dan is dit terug kamp toe; kamp afslaan en die pad vat. Voor ons weg is op ons fietsrit het ons kennis gemaak met ons kitaarspelende buurman. Hy is 'n Fransman wat op 'n muskietoer in SA was saam met 'n Suid Afrikaanse vrou wat in Frankryk woon. Ongelukkig het ek nie gedink om haar naam te vra nie, sy is blykbaar glad nie bekend in Suid Afrika nie en die toer was juis om vir haar blootstelling te gee. Ons was dus baie bevoorreg om verniet na die professionele musikant te kon luister. Kon potensieel baie romanties gewees het...
Nou is ons oppad Baviaanskloof toe. Dit bly bewolk en koel vandag, maar ons is nie bang nie. Ons gaan die kloof binne vanaf Willowmore se kant af. Baviaanskloof is asemrowend mooi met die hoë "poort wande" soos mens die poort betree. My mond hang oop soos ek my vergaap aan die skoonheid en grootheid rondom my.
Soos vantevore gaan ons weereens al die mooi piekniekplekke verby lank voor middagete en moet ons weereens ernstig soek toe ons mae begin klae (dit raak later 'n tema van ons vakansie) Maar ons "skep" vir ons 'n piekniekplek langs die pad, met 'n bietjie van 'n uitsig, waar ons ons piekniek kossies kan geniet.
Ons betree die kloof |
Ons kom na 'n skouspelagtige, enkel motorbreedte, vreesaanjaende pas by Rooihoek aan waar ons 3 nagte gaan kamp. Dit lyk of dit enige oomblik gaan reën en ons spring om so gou moontlik die tente op te slaan voor die reën ons vang. Sommer gou sif die reën sag en aanhoudend neer en nie my 1996 reënbaadjie of Johnny se fietsry reënbaadjie bly bestand teen die indringende nattigheid nie. Dis maar mislik, maar ons is nog positief en besluit op 'n eenvoudige aandete van cup-a-soup en broodjies saam met 'n rooiwyntjie, en paaseiers vir poeding onder die Cruiser se "awning". Prys die Here vir hierdie Cruiser bykomstigheid - hy was goud werd vir 'n hele paar dae. Ons kruip maar vroeg in want dis onsmaaklik buite, maar eers moet alles skoongemaak, opgeruim en in die Cruiser gepak word want hier ontsien bobbejane niks en niemand nie. As 'n baie effektiewe waarskuwing is die verwoesting by een van die ander kampplekke net so agtergelaat deur die eienaars.
Hierdie nag maak die hemelse sluise al die pad oop en dit sous met verskillende grade van indringedheid. Ek vrees dat my tent nie die aanslag gaan deurstaan nie maar ek bly betreklik droog. Ek is baie dankbaar vir 'n vriendin se raad dat ek 'n vleeskombers saamvat om binne-in my ou slaapsak te sit. Dus met verskeie "thermal" lae; 'n paar wolsokkies wat Johnny vir my saamgebring het, en 'n vleeskombers in my slaapsak slaap ek, die weer ten spyt, baie lekker warm.
Woensdag, 23 April
Dag 3 van ons vakansie breek aan met stortende reën, sonder enige belofte van verandering. Dit blyk by nadere ondersoek dat die grond onder my tent besig is om in 'n moeras te ontaard, maar ek byt eers vas want daar kan nou niks hieraan gedoen word nie. Ons eet ontbyt met gedempte gemoedere terwyl die grys reëngordyn ons omsignel. Die Cruiser se "awning" kry swaar, die reën vergader in groot damme bo-op die "awning' om elke dan en wan 'n waterval oor die kant te druk wat dan hard op die grond neerstort.
Papsopwaternat |
Donderdag, 24 April
Foto: Johnny Vergeer - Elandsvlak pas |
Hierna is ons terug kampplek toe. Ons is al sedert die vorige dag heeltemal alleen op Rooihoek - wat 'n wonderlike ervaring; nie 'n ander mens in sig nie. Ons geniet middagete, maar die bobbejane is vandag ook baie doenig. Seker net so opgeskeep en gefrustreerd soos ons was na die reën en ons moet ons oë mooi oophou vir die kalante wat ons van verskeie hoeke af beloer. Belangrike tip: moet geen kos of skottelgoed laat rondstaan nie; maak skoon en pak alles in die motor; niks in die tente nie. Sluit die motor, hulle weet hoe werk die handvatsels en ruite. Hou die flappe van die tente oop sodat hulle kan sien daar is niks binne die tent nie. Dit lyk of dit sover ons redding was dat ons die aanbevelings gevolg het. Dit was effe "hart vashou" gevoel elke keer as ons weg was van die kamp en terugkom, want ons was nie seker wat ons daar sou aantref nie.
Perfekte reënboog |
Ons sluit die dag af met 'n Johnny potjie van vark tjops en volstruis wors. Welliswaar 'n vreemderige kombinasie maar aangesien ons vleis nie meer langer sonder 'n yskas gaan hou nie, is dit beter om dit gaar te kry sodat ons darem nou nie op vakansie met "gippo guts" geteister word nie.
Vrydag, 25 April
Na 'n heerlike nagrus breek 'n wonderlike sonskyn dag aan. Ons en die bobbejane is opgewonde oor die pragtige weer. Hulle het heelnag baljaar en geskree. Sommer vroeg more het ons 'n "loerbroer" bobbejaan wat ons fyn van alle kante dophou en bekruip. Maar ons is paraat! Ons geniet ontbyt en stap dan deur die totaal verlate kampterrein . Ons ontdek Mnr Skillie, die skilpad wat heerlik in die sonnetjie rus langs die "kaktus op die vlaktus" (long drop toilet). Heel geduldig laat hy toe dat ons foto's van hom neem. Hy is effe versigtig maar wil duidelik niks mis nie want sy koppie bly half uitsteek sodat hy na ons kan loer.
Geskeidenis word gemaak |
Ons vat lank om op te pak want alles is so vreeslik nat. Ek maak solank weer vir ons padkos, want ons vertrek vandag. Terwyl ek hiermee besig is glip ons "loerbroer" bobbejaan, agter Johnny se rug so saggies en ongesiens in die Cruiser in. Gelukkig kyk ek net betyds op om hom te sien en te verjaag voordat hy kans kry om enige skade aan te rig. Hy los gelukkig net 'n paar modder spore agter en niks meer nie. Maar nou is hy gefokus op ons, dan kruip hy onder die Cruiser deur en dan sit hy voor ons kamp en eet, maar op die ou end ry ons weg sodat hy onverrigtersake moet agterbly.
Weereens is dit 'n asemrowende gesig wat ons beleef soos ons weer uit die kloof uitry. Ons sien ook die "pully" stelsel waarmee een van die boere goedere oor die kloof na die plaas "vervoer" het. Dit lyk nog redelik intakt maar is baie geroes. Ons besoek verskeie geo-cashes en eet middagete by 'n "cash" wat Johnny seker 15min lank gesoek het, voor hy my kom vra het om te help. Ons kry dit toe sommer heel vinnig. Hier het ons selfoon ontvangs en ek reël met Boplaas kampplek in Die Hel dat ons 'n dag later daar sal aankom aangesien ons heelwat stadiger wil reis en nie wil jaag soontoe nie.
Foto: Johnny Vergeer |
Saterdag, 26 April
Ek en Johnny is beide dou voor dag wakker. Hy wil eers vir 'n uur gaan fietsry voordat ons oppak en dit gee my die geleentheid om sommer lekker lank onder die stort te staan, myself skoon te skrop en hare te was. Ek maak ook sommer solank weer toebroodjies en koffie vir padkos en kry ontbyt goed gereed. Na Johnny terug is spring hy gou in die stort en geniet ontbyt en dan pak ons weer op. Ons het beide die nag ons klere probeer droog kry, ek 'n klompie goed wat ek die vorige aand gewas het en Johnny het steeds klere wat van die reëndae nog nie heeltemal droog is nie. Dit lyk darem of alles die oggend droog is teen oppak tyd.
Ons was net oppad en besig om oor die plaaswerf te ry, toe 'n jong paartjie ons voorkeer. Hulle bakkie se battery is oor die muur en ons moet help om hom weer aan die gang te kry. Die ding is egter so dood dat ons eers 'n 30-45 min later van hulle kan afskeid neem toe die bakkie uiteindelike proesend weer aan die gang is. Ons hoor dat hulle twee oppad is na Patensie se kerkbasaar. Ons is ook oppad Patensie toe om op die Saterdag nog proviant te kry vir die volgende paar dae in Die Hel, maar dan mik ons vir Prins Albert om vanaand eers daar oor te slaap. Oppad Patensie toe soek ons eers weer 'n geo-cash in 'n "grot" langs die pad maar dan sit ons effe voet in die hoek om nog in besigheidsure in Patensie aan te doen. Soos ons Patensie nader sien ons gou dat die kerkbasaar duidelik die gebeurtenis van die jaar is want motors staan los en vas geparkeer die wêreld vol, voor die kerk net Wes van Patensie.
Ons sukkel bietjie om die dorp se Spar te vind wat jou waarlikwaar deur 'n Oosterling bedryf word. Die Spar se mark is hier duidelik anders as wat ons gewoond is en ek sukkel om te kry wat ek soek. Baie moeilik om die soort vleis te kry wat ons wil hê, maar ek kry darem die basiese goed wat ons gesoek het sowel as 'n pakkie Patensie wors.
Grootrivierpoortjie pad |
Ons besef nou terdee dat ons definitief nie Prins Albert gaan haal nie want ons beweeg teen 'n slakke pas en ons opper die moontlikheid dat ons dalk 'n "boskamp" die nag sal moet opslaan want ons weet nie regtig hoe lank ons nog gaan ry nie. Ek is gelukkig heeltemal gemaklik hiermee en dit lyk my Johnny ook; ons het mos besluit ons gaan waar die Gees ons lei en as dit dan nou so is, dan is dit so.
Die Grootrivier deurkruis |
Op die ou end is ons betyds uit die berg om op Steytlerville oor te bly. Dis laterig en Johnny besluit om Noorspoort plaas te probeer waar hy voorheen oorgebly het. Ek dink ons sou beide daardie aand 'n huisie of kamer verkies het maar, alles was vol en ons kamp toe maar in die agterplaas/tuin. Terwyl ons nog kamp opslaan begin dit jouwaarlik weer liggies reën en ons beide se entoesiasme sak 'n hele paar grade. Ek dink Johnny s'n moontlik meer as myne. Johnny het sopas op die Noorweegse weertoepassing vasgestel dat daar geen reën voorspel is vir die area nie, toe die reën sommer weer met mening op ons afsak. Ons braai maar onder die reeds deurweekte Cruiser "awning" en gaan half afgehaal en gefrustreerd slaap. Dit reën voort deur die nag.
Sondag, 27 April
Die reën het gestop!! Dank die Vader hiervoor. Ek is vroeg op en besluit dat dit nou die geleentheid is om myself lekker te gaan week in die bad. Die badkamer vir die kampers is 'n "buitebadkamer" wat uitloop op die plaasopstal se stoep. Dis 'n massiew vertrek wat soos 'n saal voel met 'n grote bad aan die een kant en doer anderkant die toilet. Die bad was definitief bedoel vir "groot" mense. Ek tap die bad vol en geniet my terdee en was ook sommer hare, ek is nie seker wanneer die geleentheid hom weer gaan voordoen nie.
Ons eet ontbyt en Johnny volg daarna my voorbeeld om 'n lang bad te gaan vat terwyl ons weereens vir die tente wag om uit te droog. Hoewel daar steeds wolke in die lug is skyn die sonnetjie darem so ylerig deur die wolke. Ons kan uiteindelik weer oppak; die goed is darem so rofweg droog, maar ek sien Johnny se geduld loop dun toe die "awning" se een gespe waarmee hy aan die voertuig vas is ook nog gebreek het. Uiteindelik is ons oppad. Een van die snaaksighede van Steytlerville, wat my sommer uit maag wil laat lag. is die wonderlike dubbelbane wat die hoofstraat van die dorp uitmaak. Voorwaar 'n dorp met hoë verwagtinge vir groei, maar laat ek nie spot nie - wie weet...
Steytlerville hoofstraat met sy dubbel bane |
Dan sit ons af na die Swartberge, ons tuiste is vanaand: Die Hel (hoekom klink dit nou nie so helemal goed nie- en hene ek en Johnny is so preuts op die trip...). Dis steeds bewolk toe ons die Swartberg kloof en pas betree, maar soos altyd slaan die grootsheid en skoonheid van die rotse en berge my asem weg. Dit voel altyd vir my of ek in 'n tydmasjien eeue teruggevoer word na die storms wat hierdie rotsvormasies vasgelê het in sulke ongewone maar dinamiese vorms. Ons eet middagete sommer by die ingang van die pas naby die rivier en kruie dan rustig opwaarts terwyl ons die skoonheid om ons indrink en probeer verteer. Thomas Bain en sy Italiaanse bandiete het darem verstommende handewerk hier agtergelaat wat meer as 'n eeu later steeds perfek netjies staan en die pad dra.
Toe draai ons in op die pad na Die Hel (andersins bekend as die Gamkaskloof) - party mense beweer dat Die Hel 'n afkorting was vir die Helling - nie seker waar die waarheid lê nie. Die eerste deel van die pad loop op 'n plato en is redelik mak, maar dan neem die Elandspad pas mens af in die kloof in en die pas is 'n bietjie van 'n ander storie. Hy is nou, styl en kronkelrig maar steeds heelwat makker as van Baviaanskloof se passe. Soos jy by Elandspas afry kan jy die hele kloof sien wat min of meer 15+km lank is, in elk geval tot waar ons gaan kamp opslaan. Ek het eintlik nie meer woorde vir al die mooi wat ek sien nie - dit bring eerder 'n gevoel van verwondering by my op en van baie klein wees teenoor die grootsheid om my. Hene, ons is maar 'n effense asemteugie teen die skepping en dan is daar nog heelwat kleiner wesentjies op hierdie aarde.
Uiteindelik, na amper 2 uur, vandat ons ingedraai het na Die Hel, is ons onder in die kloof en is dit net nog 15km na ons eindbestemming. Bo-Plaas is privaat grond aan die einde van die kloof en hier het ons kampplek bespreek. Nou kan ons uiteindelik weer kampopslaan en hopelik behoorlik uitdroog. 'n Slaak van verligting na al die nat weer. Dit is 'n lieflike aand en ons braai die Patensie wors, wat stof tot nadenke is, maar ons geniet die aand en die rustigheid om ons. Daar is nog 2 ander groepe wat saam met ons kamp en 'n seuntjie van die een groep het sommer vinnig besluit Johnny is 'n lekker "ou" en het redelik by ons geboer vir 'n rukkie die aand.
Maandag, 28 April
Ek het 'n wonderlike nag se rus agter die blad en is weereens saam met die voëls wakker. Al ons kamp bure vertrek vandag en hulle is almal al aan die skarrel. Die groep links van ons is nou oppad Baviaans toe; Rooihoek waar ons nou vandaan kom. Die ander twee is "honeymooners" en is oppad Knysna toe - dis 'n ouer paartjie en die man hou die vakansie 'n verrassing vir sy vrou. Mag dit nog oor my pad ook kom om so iemand in my lewe te hê. Ons moes hulle ook eers die oggend help om weg te kom want die battery was net te koud om die engin te swaai.
Daar loop die pad na die leer |
Ons hou verby na die die CapeNature inligtingskantoor. Ons spandeer heelwat tyd hier om meer te hore te kom oor die stories van die kloof. Dis reeds verby 13h00 toe ons by die kamp terugkom en middagete geniet. Die res van die dag spandeer ons lui-lui in die kamp. Johnny hang in sy hangmat en ek sprei my uit op die gras. Dis heerlik hier buite in die middagsonnetjie. Die kamp is steeds leeg behalwe vir ons en ons geniet die voorreg om die plek vir onsself te hê. Vanaand is "Johnny se pasta" aand, maar na my eerste paar slukke rooiwyn tref 'n migraine my en is ek besonder swak geselskap vir die res van die aand. Gelukkig het ek onlangs hierdie wonderlike blou kapsules ontdek (nee, dis nie die blouetjies vir mans wat nie kan nie) wat werk soos 'n bom en ek raak nie heeltemal so siek soos in die verlede nie. Ek gaan kruip egter vroeg in om die ding af te skud sodat ek nie nog die volgende dag met die nadraai sit nie.
Dinsdag, 29 April
Dit voel vir my of ons al weke lank met vakansie is en ek staan verfris op. Johnny wil vandag die Elandspad pas met die fiets gaan uitry. Dit is nou die pas waarmee mens weer uit die kloof uitgaan aan die Ooste kant. Ek gaan saamry tot aan die onderpunt van die pas. Ons oggende begin altyd met 'n uitgerekte wakker word, koffie drink, en ontbyt eet terwyl ons die heerlike herfs sonnetjie indrink. Dit is so in teenstelling met mens se alledaagse dolle gejaag terug by die huis. Dit is vir my op die oomblik ondenkbaar dat daar buite die berge en klowe allerlei politieke gemors aangaan.
Droog die voete |
Teen 9h30/10h00 is ons oppad met die fietse. Die pad is relatief gelyk en is omring deur digte, natuurlike bosse en struike. Ons moet deur verskeie oorstroomde driffies ry en Johnny ry met sy Crocks aan, want hy wil nie met nat voete die pas gaan ry nie. Toe ons oor die laaste driffie is ruil hy eers skoene - ek is hoogs vermaak deur die hele operasie, maar verstaan goed hoe koud mens se voete raak as jy lank met nat skoene en sokkies ry.
Dit neem so 'n uur van ons kampplek tot aan die voet van die pas. Volgens Johnny het ons baie stadig gery, maar ek moes werk om by hom te bly. Ons kan nou, aan die voet van die pas wel sien dat ons heelpad teen 'n effense helling gery het en dit nie so 'n plat pad is as wat dit op die oog af lyk nie. So 200m voor die voet van die pas sit 'n hele trop bobbejane in die middel van die pad - dit lyk na 'n "dorps vergadering". Hulle is maar tragerig om pad te gee toe ons verby kom.
Foto: Johnny Vergeer - Ja, dit het hy uitgetrap, indrukwekkend |
Net toe ek op my fiets klim om te begin terugry kom 'n ouerige dame met haar 2 kleinkinders daar aangestap. Sy is tannie Annatjie Mostert-Joubert, die eienaar van Fontein die plaas wat ook die restaurant en winkeltjie bedryf. Sy en haar man het vanoggend die kleinkinders op 'n uitstappie geneem om hulle onder hul ouers se voete uit te kry. Die ouers bedryf die restaurant, winkeltjie en gaste verblyf. Die ou mense se bakkie het egter nou 'n pap wiel en hulle soek hulp om die wiel te ruil, om die een of ander rede kan die ou oom dit nie doen nie. Die tannie het my gevra om haar seun by Fontein te gaan roep om hulle te help. Ek was net reg om te ry toe 'n groep groot-oog motorfietsryers die pas afkom en hulle help toe sommer die oom met die vervang van die band.
Intussen het ek en die tannie begin gesels. Haar oupa-grootjie was 'n Fransman, ene La Cordier wat by die Goewerment van die tyd, die Britte, 'n dokument gekry het wat verklaar dat hy enige stuk grond in 'n sekere area vir hom kan eien en daar boer. Na 3 jaar moet hy dan begin betaal (dit was nie duidelik of dit huur betaling was nie). Hy is te perd die Kloof in en het Fontein as syne ge-eien en is weer terug Beaufort Wes toe om sy gebied te gaan verklaar. Hy het blykbaar die hele trippie in en uit in 5 dae te perd afgehandel.
Die mense wat in die eerste huisie gewoon het, regs soos jy die Kloof binnekom was Nels. Tannie Trudie Nel was die laaste van die Nels wat daar gewoon het en haar dogter woon nou in Eversdal. Later die oggend loop ek Tannie Trudie Nel se skoonseun raak by Fontein waar hy en sy gesin kuier. So suiker ek op die ou end stadig aan na Fontein se koffiewinkel/resaurant waar ek vir Johnny sal wag.
Teen die tyd dat ek by Fontein aankom is die motorfietsryers ook daar en die plekkie gons met al die besoekers wat op die stoep en op die gras sit en eet. Ek het net koffie en kaaskoek bestel toe Johnny ook daar aankom - baie triomfanklik. Hy het die pas tot bo gery en dit was klaarblyklik glad nie so moeilik nie. Ons gesels so 'n bietjie met die ander besoekers wat daar kuier en geniet 'n baie lekker koffetjie voor ons weer kamp se kant toe ry met ons fietse.
Johnny trap steeds sterk en ek moet werk om by te hou, maar gelukkig stop ons gereeld by al die gerestoureerde huisies om die stories te lees en foto'tjies te neem. Dan is ons uiteindelik terug by die kamp na 'n baie aangename oggend. Ons warm Johnny se pasta op en verorber dit sommer gou. Ek is rasend honger en geniet ook 'n volle tweede porsie. Intussen daag Donald, die voorman/bestuurder daar op en ons reël sommer met hom dat ons 'n ekstra nag kan bly. Ons reël ook met hom om sy telefoon te gebruik om die Kammenassie, CapeNature kantoor te bel want dit is waar ons volgende wil heen.
Na ete word hier verwoed klere gewas; ons beide se voorraad staan al redelik stokstyf en vroeër het die weer nou nie juis sulke aktiwiteite ondersteun nie. So net voor 16h00 besef ons dat ons, ons litte sal moet roer as ons nog die CapeNature kantoor wil bel en gaan brood en ys koop by Fontein. Die Kammenassie kantoor is toe reeds gesluit vir die dag en ons maak dit net betyds, met 7 minute om te spaar vir vars brood en ys by Fontein. Natuurlik haak ons eers vas by nog 'n fietsryer wat ons vroeër die dag al ontmoet het en hy en Johnny het eers 'n baie tegniese gesprek oor "dual suspension", fiets massa en 26'ers versus 29'ers en wie maak die beste wat... Dan sit ons af terug kamp toe vir 'n varktrop braaitjie vanaand.
'n Koue front het ons weer bekruip en terwyl ons Fontein toe gery het, het mis skouspelagtig die kloof ingerol en die kloof gevul met 'n sprokiesagtige lig wat die golwende rante van die Kloof saggies aangeraak het. Johnny het 'n paar mooi foto's hiervan geneem.
Foto: Johnny Vergeer |
Ek waag 'n laatnag stort saam met twee harige bobbejaan spinnekoppe en klim lekker warm en met voldoening in my slaapsak. Ek hou van die ablusies hier - dis baie primitief en oop na die berg se kant. Jy doen alles eintlik maar buite onder 'n skuilinkie. Die water word met 'n donkie warm gemaak.Vir die eerste keer slaap ek baie diep en slaap ek die nag deur totdat die donker plek maak vir lig. Ek het van my pa gedroom - dit was bietjie hartseer.
Woensdag, 30 April
'n Pragtige dag breek aan, hoewel daar steeds wolkies in die lug is wat soos 'n lugreëling skakelaar die temperatuur 'n bietjie laat fluktueer tussen koud en warm, maar dis nooit ongemaklik nie. Ons beplan om vandag 'n stappie of twee in te pas. Soos gewoonlik is ons maar traag met die opstaan in die oggend, ons handel die oggend roetines so teen 'n slakkepas af, wat alles so goed is vir die siel. Ons kom dus eers laatoggend weg en ons besluit om 'n kort roetetjie te stap vanaf CapeNature se "boskamp". Dis die "Koningsgat" roete wat na die rivier loop. Voor ons die roete aandurf stop ons eers weer by CapeNature se kantoor om die geo-cash wat hier weggesteek is te soek. Ons moet omtrent "bundu bash" om by die wegsteekplek te kom.
Koningsgat |
Sommer gou begin die honger aan ons knaag en ons stap flink terug kar toe. Ons trek die kar onder die bome by die piekniekplek en maak lekker toebroodjies van Fontein se vars plaasbrood. Na ete gaan bel ons eers weer die Kammenassie CapeNature kantoor. Ek kry die waarnemende bestuurder in die hande en verduidelik dat ons deur Andrew aanbeveel is om te probeer reël om die reservaat te besoek en 'n paar dae daar uit te kamp. Dit blyk dat hulle nie 'n probleem hiermee het nie, mits ons self met die grondeienaars reël om deurgang oor hul grond te kry om by die reservaat uit te kom. Willie Woudberg is die boer met wie ons moet skakel, maar ons het geen vreugde om hom in die hande te kry nie
Ons sonskyn kampplek |
Donderdag, 1 Mei
Vandag vertrek ons uit Die Hel met die hoop dat ons by Kammenassie sal kan ingaan. Ons het steeds nie die boer in die hande gekry nie. Ons mik eers vir Oudtshoorn waar ons eers weer proviant en ys moet kry voor ons verder gaan.
Koos se flippen Rots |
Foto: Johnny Vergeer - Middagete in die rivier |
met 'n bulldozer uit die weg geruim word. Wel hy is net-net ver genoeg geskuif sodat die pad daar kan verby. Vir middagete stop ons sommer letterlik in 'n rivierloop om middagete te geniet. Pragtig, en tog te lekker.
Ons ry net nog 'n entjie aan om nog 'n geo-cash te vind wat kort voor die aansluiting met Swartbergpas versteek is. Die wegsteekplek was net af van 'n paar staproetetjies wat mens hier kan doen. Die cash self is baie oorspronklik, 'n regte hout "treasure chest". Ek is spyt ek het nie hiervan 'n foto geneem nie, maar dan neem dit ook die verrassing weg van die volgende mense wat dalk die blog gelees het en gaan soek na die cash. Ons soek nog een "cash" bo-op Swartbergpas en kruie dan aan Oudtshoorn se kant af. Ag en die uitsigte bly asemrowend en die pas is werklik baie besonders.
Toe ons die onderkant van die pas bereik is dit voet in die hoek sit. By Oudtshoorn het ek nog proviant gaan aankoop terwyl Johnny weer die boer Willem in die hande probeer kry het. Met groot genade was sy vrou tuis en het sy ingestem dat ons oor hulle grond kan ry. Dit is egter reeds laat middag en ons sal nie vandag nog Kammenassie haal nie. Dus moet ek weereens op daai verdomde GPS begin soek vir verblyf iewers langs die pad na Uniondale. Gelukkig is ek nou al ietwat meer gekonfyt in die gebruik van die GPS, maar al die akkommdasie wat opkom is oorkant die berg in Wildernis/Sedgefield se geweste. Johnny het begin benouterig raak omdat daar niks blyk te wees nie. Ons het selfs by 'n plaas ingedraai om daar navraag te doen, maar niemand was tuis nie. Op die ou end was daar baie plekke op Uniondale self. Nie ons ideale soortvan plekke nie, maar 'n plek waar ons, ons koppe kon neerlê. Ons bly toe in "The Cottages" wat glad nie die soortvan plek is wat die naam in jou verbeelding oproep nie. Dit is een vertrek, met 2 beddens en darem al die basiese kombuis goed soos 'n mikrogolf, yskas en 2 plaatstofie maar die plek was nie baie goed toegerus nie. Geen warm water by die opwas bak nie; nee wag; geen warm kraan by die opwas bak nie en die "plumbing" in die badkamer was heel bedenklik met 'n badkamer deur wat ook nie behoorlik wou toe nie. Ons besluit om die fietse en die fietsrak eerder ook binnetoe te bring want die kar staan buite bykans of die "hoofpad" deur die dorp.
Ek maak sommer vir ons pasta met die orige pesto, room en twee blikkies sardientjies en komplimenteer dit met 'n "sak witwyn" van bedenklike voorkoms. Die wyn het my erg aan giggel gehad en dit klink my of dit Johnny bietjie senuagtig gehad het... Dit was egter 'n lieflike reisdag en ons het heerlike warm beddens gehad om in te slaap. Niks om regtig oor te kla nie.
Vrydag, 2 Mei
Ek en Johnny is altwee vroegerig wakker - dis ysig koud vanoggend. Ek het sleg geslaap - Voortrekkerweg, Uniondale is voorwaar 'n besige pad so deur die nag, met motors en vragmotors wat kort-kort daar deurry. Onder die beste omstandighede is ek 'n ligte slaper, maar na meer as 'n week se asemrowende stil nagte was dit vir my te veel. Ewenwel, Johnny het besluit ons moet vanoggend eers die pas deur die Poort gaan ry (dis nou met die fietse) na die Boereoorlog gedenkteken waar daar ook 'n geo-cash is, en dan oppad terug by die Fortjie bokant Uniondale ook aangaan vir 'n geo-cash. So gesê so gedaan. Ons ry die +/- 6km passie terwyl die temperatuur sak tot 10 grade. Ons het darem voor die tyd eers 'n koffetjie en beskuitjie weggeslaan vir 'n bietjie ekstra oemf.
Mikro "cash" by gedenkteken |
Die "cash" by die gedenkteken was nog 'n "mikro" wat Johnny in die muur gevind het. Terug dorp toe is ons toe eers by die ou Fortjie aan waar Johnny baie mooi herinnering uit sy kinderdae het, toe hy saam met 'n maat vakansies hier gespeel het. Hy kry die "cash" hier ook heel maklik. Die uitsig oor die dorp is regtig mooi hiervandaag en die Kammenassieberg lê nou sommer hier net anderkant Uniondale.
Uniondale met Kammenassie op die agtergrond |
Ek wou graag bietjie meer van die dorp sien en ons ry 'n "scenic" roete deur die dorp na ons laaste geo-cash by 'n Joodse sinagoge en skooltjie. Nie een van die geboue word meer gebruik nie maar behoort nou aan die munisipaliteit met die voorwaarde dat geen kerke die geboue mag gebruik nie. Dis pragtige ou geboue en dit is half hartseer dat dit nou leegstaan. Dit sou goed kon dien as 'n museumpie oor die dorp se Joodse geskiedenis of miskien sommer allerlei inligting oor die dorp en omgewing; of self 'n kunsgallery. Sjoe, het ons gesoek na die "cash". Ons was net reg om tou op te gooi toe ek skielik merk waar die "cash" is. Nog een van daardie baie oorsponklike idees waaroor ek nie nou verder gaan uitbrei nie anders bederf ek die opwinding vir die volgende "cashers" wat dalk per ongeluk my blog lees.
Hierna is ons terug na "The Cottages", ons geniet ontbyt, skrop onsself mooi skoon, pak op en vat die pad Kammenassie toe. Ons laat weet CapeNature dat ons vandag die reservaat ingaan, soos hulle versoek het. Die grondpad tussen Uniondale en Deyselsdorp draai af aan die voet van die pas buite Uniondale. Hier ry mens 'n entjie voor jy afdraai na Willie Woudberg se plaas, Landsrivier. Ons stop eers by die opstal om onsself voor te stel en seker te maak hoe ons in die reservaat kom. Irene, die boer se vrou is 'n aangename vrou en ons gesels 'n hele rukkie met haar oor die geskiedenis van die plaas. Die plaas is reeds 3 generasies in haar man se familie en hulle boer met alles en nog wat want daar is geen sekuriteit in boerdery nie. Volgens haar is Mannetjiesberg, wat ons verstaan die hoogste punt is, steeds deel van haar man se plaas.
Foto: Johnny Vergeer - Uitsig vanaf die voet van Kammenassie |
Van die plaas af is dit duidelik dat ons onmiddellik na 4x4 gaan moet oorskakel. Die omgewing is onmiddellik al mooi as is ons nog nie in die reservaat nie. Dis klaarblyklik maar so 6-7km tot by die skuiling waar ons wil kamp opslaan, maar ons ry so 2-2.5 uur aan die asemrowende stuk pad. Die berge regs van ons is pragtig en hoog en links van ons val die klowe diep en as jy jou oë lig sien jy weereens bergreeks op bergreeks. Die emosie wat my oorrompel is iets wat ek nie eintlik in woorde kan omsit nie - dis 'n volheid wat sommer mens se oë wil laat traan en iemand styf aan jou wil laat vasdruk en omhels. Ek dink dis liefde en ontsag vir iets baie groter as ek - 'n emosie wat ek min ervaar. Die wêreld hier is ongerep en grootliks nog onaangeraak deur die mens se hande hoewel die impak van mense se teenwoordigheid wel gesien word.
Aan die begin van die pad groei verskeie proteasoorte wat aan my totaal onbekend is (wel ja, ek ken nie eintlik plante nie). Party se tyd is verby en ander lyk of hulle nou wil blom. Ons eet middagete in 'n klofie waar 'n waterstroompie flink afstroom, en ry dan verder. Ons kom so 14h30 aan by die skuiling in die "dal" waar ons wil kamp opslaan. Ek slaan my tent in die skuiling op en Johnny kap vir hom 'n staning oop en maak vir ons 'n lekker braai area skoon sodat ons veilig kan braai.
Ons braai die aand "tenderised steak", blykbaar nie eintlik braaivleis nie, maar dit smaak vorentoe saam met botterskorsie, wors en slaai. Ek probeer vanaand vir ons "stowe appels" in die vuur maak met bietjie sherrie en kaneelsuiker, bedien saam met die orige vla. Dis nie 'n rasende sukses nie, maar met bietjie meer eksperimentering sal dit goed kan werk. Ons sit hierna lank en staar na Johnny verruklike "van scratch af" vuur en geniet die pragtige sterre wat so helder in die lug hang. Johnny probeer bietjie aand fotografie met sy nuwe speelding "Manfroto", 'n baie spesiale 3-poot vir die baie spesiale kamera. Terwyl hy speel gaan kruip ek solank in.
Saterdag, 3 Mei
Vandag gaan ons die berg hier agter die skuiling met die fietse uittrap tot by die einde van die pad/berg. Ons geniet eers ons koffetjie met beskuit en 'n lekker ontbyt en wag vir die son wat traag is om sy strale oor die bergtoppe om ons te stoot, die dal in.
Daar onder is die skuiling en die pas daaragter |
Reg voor ons strek 'n relatief platterige grasvlakte, ook bekend as die Perdevlak en oorkant die vlakte in die vertes sien ons bergreeks op bergreeks na alle kante toe. Ons ry teen 'n baie skerp helling met baie los klippe af tot op die vlakte waar daar 'n weerstasietjie is. Hier split die pad en ons kies eers die regterhandse pad. Ons ry tot aan die einde van die pad waar daar weer 'n weerstasetjie van 'n aard is. Van hier af kan ons gemaklik Stompdrifdam buite De Rust sien, waar ons die eerste nag van die vakansie gekamp het.
Ons besluit om terug te ry tot by die vurk en dan met die ander pad ook te ry en te verken. Die plantegroei die kant toe is effens meer ruig met lang grasse en hier en daar Sewejaartjies wat in die blom staan. Hier is net 'n paar voëltjies wat tusse die bossies heen en weer vliet maar hulle sit nie lank genoeg stil dat hulle afgeneem of uitgeken kan word nie. Hier bo is werklik min duidelike/sigbare dierelewe - ek is seker hier gaan baie aan wat ons ongeoefende oë nie sien nie. By die einde van die pad soek ons 'n rots met 'n uitsig en sit hier en "snack" aan 'n sjokoladetjie, appels en ek aan my grondbone en rosyne.
Stompdrifdam buite De rust - doer in die verte |
Die oulike kêrel |
Na die lekker rus en bewonder pouse is ons terug op die fietse en ry ons terug kamp toe. Die bult waarmee ons so vinnig afgekom het die kant is baie styl en tegnies en ons altwee stoot 'n gedeelte van die bult uit. Ek hoes en proes tot bo en begin dan die lang tegniese afdraend ry. Altyd 'n heerlike adrenalien "rush". Na aan die einde van die afdraend merk ons 'n Bloukop koggelmander en ons stop om hom van alle kante te fotografeer, maar hy besluit die aandag is effe oorweldigend en daar's nie "danger pay" nie so hy glip weg onder sy rots in.
Ons vlieg verder die bult af met nog so 'n bietjie ekstra adrenalien in die bloed toegevoeg. Dit is nog vroegerig toe ons by ons kamp aankom en ons besluit om eers net bietjie rustig te wees voor middagete en ek besluit sommer om voor ete myself te gaan reinig in 'n heerlike koel stroompie wat 'n entjie van die kamp af vloei. Die stroompie is koud maar die sonnetjie streel so heerlik oor mens se naakte vel dat mens sommer lank hier wil vertoef in die stilte van die natuur. Ons geniet 'n eenvoudige middagete van toebroodjies en daarna sit Johnny af vir sy reinigingsessie in die stroompie. Terwyl hy homself geniet in die stroompie soek ek water om nog 'n paar stukkies klere te was. Die lug is so droog hier dat ek dink die wasgoed sal gou droogword. Ek kan nie lekker by die ander strome water uitkom nie en moet op die ou end wag dat Johnny terugkom. Ek raak op 'n stadium bietjie onrustig omdat hy so lank wegbly en ek wonder hoe lank mens nou wag voor jy begin soek en uitvind wat die probleem is. Na 'n hele ruk kom Johnny by die kamp aangeslenter, hy het sy vitamiene D op 'n rots in die stroompie aangevul.
Ek was gou die paar stukkies klere en sit dan in my dagboek en skryf. Rondom 16h30 se kant stap ons in die teenoorgestelde rigting as die oggend, ook teen 'n bult uit. Ons wil more die berg uitklim tot by die radio toring hier bokant ons. Die pad waarmee ons nou loop vat ons tot op die nek waar die paadjie dan uitdraai teen die berg op. Dit het ons so 40 min geneem om rustig tot hier te stap so dit behoort nie more 'n baie lang stap te wees nie. Terug by die kamp is dit alweer aandete tyd en vanaand braai ons varkie, met patat en aartappel in die vuur gaargemaak en 'n appel en wortel slaai. Johnny het die slaai kombinasie effe vreemd gevind maar was verras dat dit nogal lekker is, al het die appel toe al bietjie bruin verkleur.
Ons altwee is vanaand nogal moegerig en ons gaan vroeg slaap. Vir 'n verandering slaap ek net in 'n T-hemp, dis onverwags warm hier in die aand, glad nie die koue wat ek hier op die berg verwag het nie. Ek het weereens 'n heerlike nagrus hier in die natuur en die stilte.
Foto: Johnny Vergeer - Die toring |
Dis 'n sonskyndag met wolkies in die lug en 'n effe skraal windjie wat waai. Vandag stap ons op na die radio toring op die kop langs, wat ons verstaan Mannetjiesberg is. Ons begin met 'n lekker ontbyt en Johnny bederf ons met sy heerlike espresso koffie en "frothed" melk - net so goed soos 'n single flat white sou ek sê. Ons pak eetgoed vir die pad en val in die pad. Ons is omtrent 500m weg van die kamp toe ek merk my kamera se batterye is pap en ons draai eers terug vir vars batterye. Ek moet darem kan wys ons was regtig op die berg.
Met die nuwe batterye in die kamera stap ons weer
Foto: Johnny Vergeet - Onse bergaddertjie |
Ons is heerlik verras oor die goeie toestand van die voetpad wat redelik gemaklik teen die koppie uit zigzag. Nogtans moet ek kort-kort stop om die uitsig te bewonder en my asem terug te kry. Hoe hoër ons klim hoe sterker en kouer raak die windjie. Die laaste stukkie pad is werklik baie steil, maar dan is ons bo. Weereens 'n wondelike gesig van bergreeks op bergreeks, ver die land in en ek vermoed tot in die volgende provinsies. Die radio toring self is 'n redelike eenvoudige struktuur met 'n paar sonpanele en 2 geboutjies op die perseeltjie. Ons neem 'n paar foto's hierbo en Johnny soek na 'n "log" boekie waarin ons kan aankondig "ons was hier", maar daar is nêrens so iets te vinde nie.
Foto: Johnny Vergeer -Die uitsig na ons kamplek toe |
Dan soek ons bietjie skuiling uit die koue wind want Johnny het nie daaraan gedink om iets warms
Ons stap so 'n entjie af en agter die koppie in sodat ons effe beskut is en hier eet ons eers 'n sjokoladetjie en van Rinie (Johnny se suster) se lekker koekies. Johnny lê so vir 'n rukkie op die naat van sy rug terwyl ek bietjie met my kamera speel om die gevoel van die ervaring op die een of ander manier te probeer vaslê. Die twee foto's hieronder beskryf dit die beste.
"On top of the world - 1 |
"On top of the world-2" - Ek weet van die skewe horison:-) |
Ons het die vorige dag ons laaste wors gebraai want dit was so warm hier op die berg dat ons bang was die wors sal afgaan. Die idee is om vanaand 'n wors potjie te maak saam met al die baie groente wat ons nog het en wat ook nie meer lank gaan hou nie. Dit is in elk geval ons laaste aand in die wildernis. Ek berei al die groentes voor en toe ek min of meer klaar is deel Johnny my mee dat ek self die potjie moet maak; daar is die vuur, help jouself. Ek wou my eers vervies maar besluit toe dit help nie op die vooraand van die einde van ons reis my op te ruk hieroor nie en maak toe 'n "stir-fry" pot. Definitief nie die beste dis wat ek al voorberei het nie, maar alles was gaar en darem eetbaar.
Foto: Johnny Vergeer - Groente vir die pot |
Foto: Johnny Vergeer - Stir-fry pot |
Ons sluit die aand af met Tawny Port en die laaste van die Topdek. Dat die sjokolade die hele tyd gehou het is nogal iets. Toe ek jare terug huis gedeel het met Johnny het ek gereeld sy Topdeks gesteel en vervang want ek het nou maar 'n swak vir sjokolade. Maar die een het 'n lang asem gehad. Ons begin hierna deeglik opruim want ons wil more vroegerig in die pad val. Dit word skielik regtig koud en ek sien dat die mis dig in die dal van ons skuiling neersak en dit begin liggies misreën. Ek het vroeër die aand vir Johnny gevra of hy nie liewer sy tent se "fly sheet" moet oorsit nie, maar hy het nie gedink dis nodig nie. Dit was vreemderig warm toe ons gaan inkruip en Johnny het nogal hieroor opgemerk, maar soos die nag aanloop begin ek al kouer kry en ek begin weer my lae klere so deur die nag aantrek. Op 'n stadium kyk ek uit en dit is pikstik donker, ons is omhul met diep mis wat my amper paniekerig wil maak. Vir 'n rukkie lê ek my en bekommer oor wat die weer gaan maak en of ons sal regkom as ons 'n dag of wat ingesneeu word, of so iets van die aard. Nadat ek bereken het dat ons nog genoeg kos, brandstof en warmgoed het om 'n paar dae vol te hou is ek rustig en raak ek uiteindelik aan die slaap. Dit het wel deur die nag begin reën en ek het maar gehoop Johnny is OK.
Maandag, 5 Mei
Opgepak en reg vir ry - Cruiser het sy vuurdoop gehad |
Sprokies mooi |
Ons gaan weer by die plaas om, om dankie te sê vir die wondelike voorreg wat ons gehad het om hierdie plek te beleef. Die huismense is egter nie tuis nie en ons laat 'n briefie.
Ons ry nou met die grondpad tussen Uniondale en Deyselsdorp. Weereens kry ons nie 'n lekker piekniekplek vir middagete nie, maar ons trek sommer op 'n koppie so van die pad af sodat ons rustig kan eet. Die windjie is vandag maar skraal hier buite. Dan sit ons af na Oudtshoorn toe waar ek eers weer vir ons 'n wyntjie en chippies wil koop vir ons laaste aand. Dan mik ons vir Seweweekspoort. Ons plan is om deur die poort te ry en aan die ander kant van die poort oor te bly, erens op die Bosluiskloof pad. Die poort is oorweldigend mooi, majestieus dink ek is wat mens die rotse moet noem. Mens vergaap jou aan die kleure en vorms van die rotse. Die lyne en vorms laat my dink aan die gesigte van ou mense wat baie hartseer, vreudge en swaarkry deurleef het en waarvan die karakterlyne diep op hul gesigte gekerf is.
Foto: Johnny Vergeer - Ons "rustic' romantiese laaste verblyf |
Dan sien ons onverwag huisies op die regterkant van die pad, Aristata heet die akkommodasie. Ons draai sommer in en soek die eienaar/bestuurder. Hein is die opsigter/bestuurder hier en hy wys vir ons die huisies. Ek en Johnny hou altwee baie van die eenvoudige, maar goed toegeruste huisies wat geen elektrisiteit het nie. Die warm water word met 'n donkie gestook. Daar is 'n kaggel in die middel van die vertrek en die ligte is olielampe - vreeslik romanties, maar hoewel ek en Johnny altwee 'n sterk romantiese streep het is hierdie effek ongelukkig maar effe gemors op ons. Die omgewing is ook wonder mooi. Teen R350/nag is dit 'n ware juweel. Ons besluit natuurlik om te bly.
Ons vat so 'n kort 20min stappie teen die berg op en terug. Die paadjie loop verby 'n baie ongewone sement swembad, eintlik regtig oulik hoewel dit tans moet skoongemaak word. Langs die swembad is daar 'n braai en kuierplek. Twee van Hein se honde draf al die pad saam met ons op die voetpaadjie, een voor en een agter. Na ons reeds terug is van ons stappie besef ek dat ek nie my ma kan bel en sê ek is veilig nie want hier is nie ontvangs nie. Hein neem my egter weer 'n ent teen die berg uit waar ek genoeg ontvangs het sodat ek darem 'n sms kan stuur.
Na ons stappie maak ons vir oulaas 'n rooiwyntjie oop en geniet dit saam met chippies. Die luggie begin gou koud raak en ons skuif binnetoe waar Johnny vir ons 'n heerlike kuier vuur maak waar ons eers lank rustig sit en gesels voor ek begin om die laaste aandete van ons vakansie te maak. Ek maak vir ons 'n lekker tuna pasta en slaai en ons sluit die aand af met 'n laaang Amarulatjie; Johnny s'n was heelwat langer as myne. Ons merk op dat die wind intussen heftig begin waai het buite, maar vertrou dat dit met daglig rustig sal raak. Ons vat elkeen 'n heerlike warm stort en slaap heerlik warm, die stormwind ten spyt.
Dinsdag, 6 Mei
Die plan was om vanoggend eers die kloof altwee kante toe deur te ry met die fietse, dan die Bosluiskloof pas met die Cruiser te ry tot by Gamkadam en dan die pad te vat terug huistoe. Toe ons wakker word woed die wind steeds ernstig buite. Ek is nie oortuig dat mens enigsins moet probeer fietsry in sulke wind nie, maar ek weet ook dat dit soms erger klink as wat dit is. Johnny verklaar dat hy seker is dat die wind sal afneem en dat hy in elk geval gaan fietsry, hy sal verstaan as ek nie wil saamgaan nie. Ek hou nie daarvan om op enige iets uit te mis nie en besluit dat ek sal saamgaan en as dit werklik onaangenaam is sal ek terug draai.
Foto: Johnny Vergeer - Seweweekspoort |
Ek maak eers vir ons elkeen 'n lekker koppie koffie met beskuit en dan pak ons die wind by die horings. Die wind het nie minder begin waai nie en hy was eintlik maar so onaangenaam soos hy geklink het. Maar ons ry voort en soos gewoonlik help Johnny geduldig vir my uit deur voor my te ry sodat ek "slip stream" kan ry en nie die wind so direk van voor kry nie. Hy stop kort-kort om foto's te neem, maar ek is te koud om eintlik aan foto's te dink hoewel ek steeds die wondelike rotsvorme rondom ons bewonder. By die omdraai punt besluit ek dat ek nou sal teruggaan huistoe terwyl Johnny aanry in die ander rigting. Ek vat solank 'n lang warm stort om die murg in my pype te ontdooi en pak die donkie vuur weer aan vir Johnny, sodat hy darem ook warm water sal hê as hy verkluim terugkom.
Ek besluit om vir ons 'n lekker "brunch" te maak want ons kos is nou heeltemal op en al wat daar is vir die pad is koekies. Ek begin alles voorberei en pak solank die res van die goed op. Dit voel aardigrig om klaar te maak en af te sluit - dit voel na verlies van iets wat jy nie eintlik gehad het nie en nie mooi weet wat dit is nie. Die res van die dag bly die ongemaklike gevoel in my en my klere sit. Toe Johnny terugkom is hy ook reg vir 'n warm stort. Die wind was blykbaar by plekke heelwat erger as toe ons die ander rigting gery het. Toe hy klaar gestort het maak ek vir ons "french toast" met kaas en heuning en ons drink weer elkeen 'n lekker koppie koffie. Dan pak ons op. Dit het nou te laat geraak om nog Bosluiskloof toe te ry en ons besluit om die pad huistoe nou aan te durf.
Foto: Johnny Vergeer - Franschoek Vallei |
Op Barrydale stop ons vir 'n koeldrankie en op Montague benodig ek 'n pitstop. Kort na Robertson draai ons af op 'n lieflike grondpad, vir oulaas, wat ons op die Scherpenheuwel pad uitbring waar ons vroeër vanjaar gekamp het. Dan ry ons oor Villiersdorp en Franschoek met ABBA as begeleiding vir die grand finale, en heeltemal te gou is ons terug by die huis. En ja, na die afpak en dankie sê lê daardie gevoel van diep verlies wat die oggend al hom in my hart kom tuismaak het, baie vlak in my gemoed. Dit voel na die einde van iets baie besonders en spesiaals.
NABETRAGTING
Wat 'n besonderse ervaring was hierdie nie. Dit was soveel meer as wat ek verwag het, dit was 'n diep emosioneel en geestelike ervaring. Ek het lank voor die tyd gebid dat hierdie 'n besonderse tyd vir beide my en Johnny sal wees, wetend dat dinge baie verkeerd kan loop. Ek het nie regtig 'n idee wat Johnny se ervaring van die reis was nie, maar ek wil graag glo dat dit vir hom ook spesiaal was. Ek het baie gebid vir goeie weer en veilige reise en ten spyte van die eerste paar dae se reën weer was ons die grootste deel van die tyd geseën met ideale weer en was ons reis sonder enige probleme. Ek kan werklik sê dat ek in hierdie 14 dae die meeste van die tyd werklik "in die oomblik" was; mens kon nie anders nie. As ek nie hard besig was om 'n berg op te trap of af te vlieg nie met die fiets nie, was my aandag gevestig op die wonderskone natuur en grootheid van die skepping. Daar is nie 'n ander manier om so vry te kom van ons daaglikse stress en eise nie. Dan het ek ook weer fiks geword en is ek herinner hoe lief ek eintlik is vir bergfietsry, iets waarmee ek vroeër nogal goed was.
No comments:
Post a Comment